Die doel met hierdie webblad is om ‘n 1-stopplek te bied waar onderwysers en ouers nie alleen inligting kan verkry oor begaafde leerders nie, maar ook om hulpbronne aan te koop wat spesifiek ontwerp is om begaafde leerders uit te daag om hulle vermoëns te ontwikkel.
Dit is kommerwekkend dat begaafde kinders oor die moontlikheid beskik om toppresteerders te wees, maar dat ‘n persentasie van hierdie leerders weens ‘n wye verskeidenheid faktore onderpresteer, dreig om uit te val sen selfs druip. Die Suid-Afrikaanse kurrikulum fokus, net soos ander lande se kurrikula, op die mediaan, met die gevolg dat beide begaafde leerders en leerders met leerprobleme nie die ondersteuning kry wat hulle nodig het nie.
Begaafde leerders kry dikwels meer werk en take, eerder as om uitdagende take spesiaal vir hulle te ontwerp, hoofsaaklik weens die beperkings wat Inklusiewe Onderwys op onderwysers plaas. Indien ons daarin kan slaag om hierdie leerders buite skoolverband uit te daag, kan ons hierdie leerders laat besef dat hulle intellektuele talente nie ‘n las is nie, maar ‘n bate waaroor bitter min mense beskik.




